The Social Media Company is trots daarop om ’n volledig tweetalige bemarkingsagentskap te wees.

The Social Media Company se liefde vir tale en veral vir Afrikaans strek dieper as ’n blote professionele verpligting en is ’n passie vir al ons skrywers.

Dit is onlangs aangekondig dat die besturende direkteur van The Social Media Company, Enrique Grobbelaar, se kortverhaal, “Binnelandse sake” in die 2019 weergawe van die US Woordfees-kortverhaalbundel gepubliseer sal word. Vyf-en-twintig verhale is uit 323 inskrywings gekies.

Suzette Kotzé-Myburgh, die sameroeper van die beoordelaarspaneel, sê die groei van hierdie projek is rede tot vreugde.

“Sedert die eerste Woordfeesbundel in 2016 gepubliseer is, gaan hierdie projek van krag tot krag! Die aantal inskrywings het gegroei van die oorspronklike 99 tot ’n verstommende 323 vanjaar.”

Die jaarlikse kortverhaalkompetisie, wat heelwat bekende name lok, word vanjaar geborg deur Du Toitskloof Wyne en kykNET.

Grobbelaar se opname in die US Woordfeesbundel volg op die insluiting van The Social Media Company se hoofkopieskrywer, Angie Gallagher in Nuwe Stemme 6. Die bundel, wat deur Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé saamgestel is, is ’n versameling van die beste verse van opkomende digters in Afrikaans. Gallagher het sedert die publikasie van Nuwe Stemme 6 in 2017 ook heelwat voorlesings by verskeie Afrikaanse kunstefeeste gedoen.

The Social Media Company kon oor die afgelope paar jaar sterk bande smee in die Afrikaanse gemeenskap en dit is ’n voorreg om na die bemarkingsbelange van ’n verskeidenheid vooruitstrewende Afrikaanse handelsmerke om te sien.

Hierdie trots Suid-Afrikaanse en Afrikaanse ondernemings sluit onder andere die gewilde Janpap Braaipap in, sowel as die Basilie restaurant in Brandfort en Vetmuis Plaaskombuis in Richmond.

Baie van ons kliënte vereis ook sosiale media-veldtogte wat in Engels en Afrikaans verskyn, soos die Bloemfonteinse ondernemings, Key Wealth en Picnic, tesame met die Richmond Meats and Deli.